Die Gereformeerde Kerk Oudtshoorn
Die Gereformeerde Kerk Oudtshoorn

terug na tuisblad



Straatadres van Kerkgebou: H/v Parkweg en Oranjestraat, Oudtshoorn.

Die volgende gebiede val binne die gemeentegrense: Beaufort-Wes, Calitzdorp, De Rust, Fraserburg, Ladismith (Kaap, Loxton, Prins Albert, Uniondale, Willowmore.

Webadres:

Erediens: 09:30

Katkisasie:

Bybelstudie:

Admin:


Skriba:



Attes-Skriba:

Kassier:

Koster:

Voorsitter
Diakonie:

Predikant:








Konsulent:


Kerkraad


JJ Pretorius



BC Coetzee



Sr R Lombard


C du Plessis

Ds JGL van der Walt








Predikant van
George

Posbus 551
Oudtshoorn 6620

Van der Westhuizen-
straat 22
Oudtshoorn 6620










Straatadres:
Keyterstraat 78
Oudtshoorn


Posadres:
Posbus 551
Oudtshoorn 6620







Tel: 044 279 2965



Tel: 044 272 5436



Sel: 083 263 4523

Sel: 082 563 9703


Tel: 044 272 2653








Tel: 044 873 6686






Die Gereformeerde Kerk Oudtshoorn

Oriëntasie-dokument

1. WIE IS ONS?

Die Gereformeerde Kerk Oudtshoorn is eerstens 'n kerk wat aan God behoort. Die gemeente is uniek met 'n ryk geskiedenis van die Here se troue bewaring. Deur vele groeipyne het die Here die gemeente gedra en bewaar sodat die gemeente vandag 'n besondere staanplek het. Ons wil graag getrou wees aan ons Gereformeerde belydenis, en terselfdertyd besef ons die noodsaak om relevant te wees vir die tyd en kultuur waarin ons leef. Daarom poog ons om Gereformeerd-vernuwend in ons aanslag te wees.

Die gemeente is geleë in die Klein Karoo - 'n deel van ons land bekend vir sy "harde" klimaat met uiterstes. Tog is hier ook soveel lafenis te vind soos in die prag van die natuur - die berge met sneeu, die ontwaking van die natuur in die lentetyd en die rooikoppe rondom Oudtshoorn. Te midde van die hardheid van die omgewing vind 'n mens die koelte en salwende verkwikking in elke koeltekom in die berge. So wil die Gereformeerde Kerk Oudtshoorn ook 'n lafenis in die hardheid van die lewe wees vir elkeen wat sy toevlug neem tot die Here. Hier kan die wat wil kom beleef dat die Here goed is, dat daar aanvaarding en liefde en warm gemeenskap is.

Oudtshoorn word nie sonder rede soms "Klein Jerusalem" genoem nie. Soos Jerusalem in Palestina is die dorp omring deur berge - die Swartberge aan die noordelike kant en die Outeniqwaberge aan die suidelike kant. Ons ervaar ook hoe die Here ons omring met sy liefdestrou en beskerming. Ook ons kan sing van die Here as ons Rots en ons veilige Bergvesting. Ps 31:4 sê: Ja, U is my rots en my bergvesting, ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei. Ps 17:6: Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.

Mag elkeen wat deel is, of word van hierdie gemeente ervaar hoe die Here sy beskermende arms om hom/haar vou.

2. WAAR IS ONS EN WIE BEDIEN ONS?

Ons kerkgebou is geleë op die Hoek van Oranjestraat en Parkweg-Suid, Oudtshoorn. Die gemeente is saamgestel uit lidmate oor die hele dorp, en bedien ook enkele lidmate wat ver-verspreid woon in die omliggende dorpe. Ons wil dus nie bloot fokus op 'n enkele groep mense nie, maar wil 'n tuiste bied vir almal uit die omgewing.

3. ONS STREWE

Ons doelwit / strewe is die ideale toekomsbeeld van ons gemeente wat ons glo die Here in ons harte vasgelê het. Die strewe is soos volg:

Ons sien 'n groeiende, toegeruste en Woordgetroue gemeente wat geroepe die Here verheerlik deur

  • 'n passievolle persoonlike verhouding met die Here

  • 'n liefdevolle onderlinge gemeenskap

  • onderlinge liefdesdiens aan die hand van ons Geesgegewe gawes

  • kragtige en effektiewe uitdra van die Blye Boodskap

Ons streef daarna om hierdie oogmerke in elke lidmaat se hart te laat groei en dit doelgerig uit te lewe. Ons verwagting is daarom ook dat elke lidmaat hiermee sal erns maak en persoonlike eienaarskap daarvan sal aanvaar.

Verdere omskrywing van ons kernwaardes

Ons wil die Here verheerlik deur 'n doelgerigte lewe

Om God te verheerlik is veel meer as prys, sang en gebede tot God. Aanbidding is 'n lewenstyl van behae in God, liefde vir Hom, en om ons aan Hom te gee sodat ons vir Sy doeleindes gebruik kan word. Wanneer jy jou lewe aan die verheerliking van God wy, word alles wat jy doen 'n daad van verheerliking. Die Bybel sê: ..... stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.(Rom 6:13); En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen(Rom12:1). In alles wat ons doen, is ons hoogste motief dus die eer van God. Wat ons ook al doen, of dit kopwerk of handewerk is, dit is vir Here. Ons hele lewe is doelgerig op Hom gefokus.

'n Lewe waarin God verheerlik word, veronderstel ook 'n intieme lewenswandel met God. Wie God verheerlik, hunker na Hom, en wil 'n "coram Dei - lewe" leef - 'n bewuste lewe voor sy aangesig. Persoonlike stilword voor God spoel oor in die daaglikse lewe waarin ons voortdurend in diepe afhanklikheid van God lewe, sy teenwoordigheid in ons lewe soek, en ook met groot vrymoedigheid ons nood voor Hom bring en ons behoeftes aan Hom bekend maak in gebed. .

Ons wil elkeen nader aan Christus groei

In die Woord word die sinsnede "in Christus" dikwels gebruik. Die woorde lê nadruk daarop dat ons ingeplant is in Christus deur die geloof, en dat ons sonder Hom niks kan doen nie. Jesus sê in Joh 15:5: Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Om al hoe meer gebind aan Jesus te wees, beteken ook om al hoe meer soos Hy te leef. As Christen het ons 'n nuwe lewe en aard van Godontvang. Deur die krag van die Heilige Gees moet ons nou daaraan werk om voortdurend ons karakter te transformeer om soos Christus te word. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing(Gal 5:22-23). Jesus is volmaakte liefde, vreugde, vrede, geduld en al die ander vrugte in een Persoon. Daarna groei ons deur die werking van die Heilige Gees met die Woord in ons lewe.

Om te groei in hierdie strewe van toewyding aan ons Here bied ons toerusting aan op verskillende vlakke.

Ons wil 'n liefdevolle gemeenskap wees

Ons is eerstens mensgerig, en nie taakgerig nie. Al ons aktiwiteite dien die doel om ons onderlinge liefdesbande te verstewig. Ons wil dus ernstig fokus op ons onderlinge verhoudinge teenoor mekaar en ander gelowiges. DieHere is die Here wat gemeenskap soek met sy kinders, en Hy bind ons saam tot 'n hegte eenheid. Ons behoort tot die huisgesin van God (Ef. 2:19-22). Binne hierdie eenheid wil ons verhoudinge onderling bou waar die liefde in al sy veelkleurigheid na vore sal kom. Ons lees in die Woord: Ons weet dat ons uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief (1 Joh 3:14). En Jesus sê: Ek gee julle 'n nuwe gebod: "Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." (Joh 13:34-35)

Ons is geroepe om op mekaar te let en te ondersteun.Dit beteken dat ons sensitief is vir mekaar se behoeftes en om mekaar by te staan in nood.Ons het mekaar nodig. Die hele liggaamsmodel van die kerk lê klem op ons onderlinge afhanklikheid. In Hebr 10:24 lees ons: "Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade".

Elkeen leef geroepe deur God

Die gedagte van 'n besliste roeping deur God is vir ons belangrik. Elkeen word geroep om in 'n bepaalde tyd en op 'n bepaalde plek sy roeping te vervul. Waar vele vandag dink in terme van behoefte-vervulling, en wie se beskouing daarop gerig is om te ontvang, wil ons ook klem lê op ons reaksie op alles wat ons van God in Christus ontvang. Ons ontvang immers so baie van die Here in sy genade dat ons nie anders kan nie - die dankbaarheid moet ons so oorspoel dat ons gedryf word om onsself al meer aan die Here te gee in gehoorsame diens.

Die Here maak dit in die Bybel duidelik dat elke kind van Hom geroep word. Daar is die algemeen- Christelike roeping waartoe alle gelowiges geroep word. Ons word almal geroep om sout vir die aarde en 'n lig vir die wêreld te wees (Mat 5:13,14). Ons word almal geroep om die Koninkryk van God, waaraan ons deel mag hê, uit te bou (Mat. 28:19). Dan is daar ook ons elkeen se meer persoonlike roeping deur die Here. Hierdie roeping het meer te doen met jou unieke gawes, talente en passie wat die Here aan jou skenk. Elkeen word geroep om ander te bedien met geestelike gawes (Vgl. ook 2 Thes 1:11; 1 Tim 6:12; 2 Tim 1:9; 1 Petr 2:9). Ons beleef dit as 'n ontsaglike voorreg om deur die Here Self geroep te word om instrumente in sy hand te wees - ondanks wie ons is. In en deur ons as swakkelinge werk die Here in krag.

Elkeen bedien die ander met sy/haar gawes

Die Here gee aan elkeen gawes volgens sy wil deur die Heilige Gees (Rom 12:4-6; 1 Kor 12:4-7). Niemand is onnodig nie - elkeen se bydrae volgens sy unieke roeping en gawesis kosbaar vir die Here en daarom ook belangrik in ons oë. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien (1 Petrus 4:10). Ons wil daarom graag hê dat elkeen sy unieke gawes sal ontdek en op die gepaste plek sal dien tot opbou van Jesus Christus se liggaam.

Elke leeftydsgroep vind 'n warm tuiste in die gemeente

Ons glo dat die gemeente bestaan uit 'n heerlike verskeidenheid, maar saamgebind in die eenheid van God se kerk hier op aarde. Die wonder van God se genade in Jesus Christus word juisweerspieël in die verskeidenheid mense wat saamgebind word en een voel. In die brief aan die Efese (Hfst 5,6) rig die Here sy Woord deur Paulus aan die verskillende groepe in die gemeente, naamlik mans, vroue, diensknegte, werkgewers, ouers en kinders. Almal ontvang hulle plek in die gemeente van Christus.

Elkeen dra die blye boodskap uit

Die Gereformeerde kerk Oudtshoorn het as kerk van Christus 'n evangeliserende roeping. Die gemeente streef daarna om werklik "sout van die aarde" te wees en toe te sien dat die evangelie versprei veral na mense wat onseker voel oor hulle geloof. Ons is daarvan oortuig dat 'n kerk wat nie daarop gerig is om die evangelie uit te dra nie, ongehoorsaam is aan die Here. Jesus laat die kerk immers op aarde met die woorde: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld(Mat. 28:19,20). Die Bybel sê: Ons doen dit (die uitdra van die evangelie), sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer(2 Kor 4:15). Ons wil dus 'n ongesonde na-binne-gerigtheid teengaan, en ook na-buite-gerig bly. Ons wil met die dringende besef leef dat ons deur die Here geroep is vir ander mense, en nie net vir onsself nie. Natuurlik is daar ook by ons nog baie groeiwerk nodig rondom hierdie hoë roeping, maar ons leef uit die geloof dat die Here ons na buite sal lei deur "poorte" wat Hy Self vir ons sal oopmaak.

4. ONS EREDIENSTE

Ons streef daarna om ons eredienste besondere ontmoetings met God en ons medegelowiges te maak.

Eredienstye:9:30

Christelike vakansiedae: 9:00

Voorafsang en gebedsversoeke vorm deel van ons toetrede tot die Here. Tydens ons voorafsang word 'n verskeidenheid van liedere gesing. Geleentheid word aan lidmate gebied om gebedsversoeke te gee waarvoor ons dan tydens die erediens bid. Ons streef na 'n styl wat gemaklik maar ook gewyd is. Dit is ook vir ons lekker om na die erediens met mekaar te gesels en besoekers en nuwe lidmate te ontmoet.

5. ONS BEDIENINGE

5.1 OUDERLINGE

In die gemeente funksioneer beide die herder-kudde model en die liggaamsmodel. In die Nuwe Testament word dit duidelik dat die modelle nie teen mekaar afgespeel moet word nie, maar dat beide modelle aanvullend tot mekaar kan dien. Om in ons visie te slaag is die ouderlinge se fokus op twee sake gerig:

- Die leiding in die gemeente deur die visie en kernwaardes te implementeer, deur aandag te gee aan die oorhoofse bediening, die gemeente-bekendstelling, toerusting en meetinstrumente.

- Die herderlike sorg van die gemeente deurdat elke ouderling sorg dra van hul onderskeie geloofskringe. Die herders sien toe dat lidmate prosesmatig ons kernwaardes beleef / uitleef en daarin groei, naamlik die verheerliking van God deur:

  • 'n passievolle persoonlike verhouding met die Here

  • 'n liefdevolle onderlinge gemeenskap

  • onderlinge liefdesdiens aan die hand van ons Geesgegewe gawes

  • kragtige en effektiewe uitdra van die Blye Boodskap

Die ouderlinge sal streef om biddend betrokke te wees by elke lidmaat/gesin in sy familie. Behalwe vir ander kontak-geleenthede streef die ouderlinge daarna om ten minste een maal per jaar die lidmate aan huis te besoek.

5.2 DIAKENS

Die diakens se taak is:

* om die onderlinge gemeenskap in die gemeente te bevorder;

* om met Christelike liefde uit te reik buite die gemeente se grense.

* om die gemeente toe te rus vir hul dienswerk in ooreenstemming met hul gawes.

* om liefdevol om te sien na die fisiese/materiële behoeftes van die gemeente.

Om die taak na te streef word aan elke diaken 'n sekere bedieningsveld toegeken waar hy/sy die leiding neem en ander lidmate trek om deel van 'n diensgroep te word. Die verskillende groepe sal wissel na gelang van behoeftes. Tans bestaan die volgende groepe:

Uitreike om die gemeenskap met die liefde van Christus te bedien

Besoekers en nuwelinge

Barmhartigheid

Administrasie / Kommunikasie

Tegnologiese vaardigheid

Bejaardes / siekes

Jeug

Die ruimte word gelaat vir die spontane ontwikkeling van ander diensgroepe deur lidmate volgens hul gawes. Ons doel is dat al die gemeentelede uiteindelik die gemeente met hul gawe-uitoefening sal dien.

Die diakens is ook gedurig op soek na geleenthede buite die gemeente se grense waar ons Christus se liefde sigbaar kan uitleef met diens.

5.3 GELOOFSKRINGE

Die geloofskringe verrig enkele take in die gemeente soos met insamelingsprojekte en sosiale geleenthede. Die doel is dat die geloofskringe as 'n unieke groepie gelowiges al meer sal saamwerk en saamleef om mekaar te ondersteun. Die verwagting is dat daar ook unieke bedienings uit die groepe sal ontstaan.

5.4 JEUGBEDIENING

Ons kinders is vir ons kosbaar as toekomstige boustene in die oordra van kennis (die evangelie) en dit waarin ons glo. Die kategete neem leiding met die kinderbediening en sorg dat die kennis aangaande God en Sy Woord volgens Gereformeerde beginsels en die kernwaardes van die gemeente suiwer aan die kinders oorgedra word.

Sosiale geleenthede vir ons jeug

Sosiale geleenthede word vir die kinders gereël deur die Jeugkomitee. Tans is daar kwartaalliks 'n opwindende Saterdag/naweekuitstappie vir die jeug.

Katkisasie en Kleuterkerk

Die voorskoolse groep tot Gr R kinders onttrek tydens die erediens om hul "kleuterkerk" te hou. Met die kinders word die katkisasie dan hanteer op 'n maklike en verstaanbare wyse. Die ander kinders het na die erediens katkisasie.

Ouers se roeping

U as ouer, is vir ons die belangrikste in die geestelike opvoeding van u kind. U is onmisbaar. U ken u kind. Sien ook hierin die belangrike opdrag van God om veral te help vorm aan u kind (in karakter en in geloof - doopbelofte). Leef jou belydenis as kind van God uit in die alledaagse lewe. Moet asseblief nie die kind los om maar te doen wat hy/sy wil nie maar skerp dit by hom/haar in dat kinders van God hulle geloof ernstig opneem. Dit wat ons jou kind leer, sal vassteek as jy 'n goeie fondasie gee waarop dit kan rus. Die leerstof wat ons gebruik skep die ruimte om betrokke te wees by die geloofsopvoeding van u kind - gebruik dit!

Bediening binne gesinsverband

Ons voel die noodsaaklikheid van die bediening binne gesinsverband aan weens die verbrokkeling van gesinne in ons tyd. Statistieke toon ook duidelik dat kinders die leiding van volwassenheid begeer, al kom dit ook nie altyd so voor nie. Daarom pak ons baie dinge binne gesinsverband aan en wil graag die kinders betrek by al die geleenthede wat in die gemeente gereël word, of dit nou toerustingsgeleenthede of kleingroepe of sosiale uitstappies ens is.

5.5 BYBELSTUDIE EN OMGEEGROEP

Daar is tans 2 Bybelstudie groepe wat op Woensdae byeenkom:

Woensdag-oggende om 9:00

Woensdag-aande om 18:30 (twee-weekliks)

Daar is een omgeegroep vir ouers met kinders en ander belangstellendes wat ook op Woensdae byeenkom:

Woensdag-aande om 18:30 (tweeweekliks)

5.6 KOMMISSIES EN DIENSGROEPE

Ons wil graag he dat so veel as moontlik lidmate betrokke sal wees by die groepe sodat hul Geestesgawes kan funksioneer en hulle daarin kan groei. Die groepe bied geleentheid om ons dank aan die Here uit te druk vir sy ryke genade-geskenke in ons lewe. Ondersoek dus die groepe en sluit aan deur die betrokke sameroeper te kontak. Die name van sameroepers is in die gemeentegids (Die Byderhand) of kan by die skriba gekry word.

  1. Gebedsgroep

Die gebedsgroep bestaan uit lidmate wat 'n besondere roeping aanvoel om voorbidding te doen vir gemeentesake en ander sake. Deur 'n gebedsnetwerk word gebedsversoeke weekliks aan almal deurgegee. Elkeen doen op sy eie tyd voorbidding vir die betrokke sake. Die groep kom kwartaalliks byeen om terugvoer te gee, mekaar aan te moedig en toerusting te ontvang.

  1. Uitreikingsgroep (Dorkasprojek)

Die groep staan onder leiding van die diakonie en soek na geleenthede om die liefde van Jesus Christus sigbaar na buite uit te dra. Ons glo dat die evangelie en troos van die Here die uitreikingspogings moet vergesel. Tans fokus ons op 'n kosprojek waardeur ons voedselpakkies bymekaarmaak en dan uitdeel aan mense in nood.

Ons is ook gretig op soek na ander geleenthede om te dien.

  1. Boukommissie

Hierdie groep gee aandag aan die voltooiing van die Gemeentesaal. Dit behels die insameling van fondse asook die uitvoering van goedgekeurde bouprojekte.

  1. Evangelisasie

Die kommissie gee aandag aan die uitdra van die evangelie na buite. Die fokus val veral op die begeleiding van die hele gemeente in die proses. Uiteindelik word die gemeente geroep om die evangelie uit te dra en nie net 'n handjievol lidmate nie.

Daar word tans ernstig besin oor 'n evangelisasiemodel vir die gemeente, wat veral klem le op vriendskapsevangelisasie waardeur lidmate mense na die eredienste en ander gemeente-aktiwiteite nooi.

  1. Fondsinsamelingsprojekte

Die kommissie beplan, organiseer en bestuur verskeie fondsinsamelingsprojekte, waarvan die geleenthede rondom die Klein Karoo nasionale Kunstefees 'n groot deel vorm.

  1. Instandhouding

Die Kommissie gee aandag aan die instandhouding van die gemeente se geboue en fasiliteite

  1. Erediens

Die Eredienskommissie evalueer die eredienste en soek na wyses waarlangs die ontmoetings met die Here verder kan verbeter sodat dit lei tot verdieping in ons intimiteit met die Here en sy verheerliking.

  1. Publikasies

Die beplanning, skryf en uitgee van spesiale publikasies soos die Wyd en Syd (kwartaalblad) en die Loot (weeklikse nuusbrief).

  1. Terreine

Die beplanning, uitleg en instandhouding van die tuin.

  1. Besoekers / nuwe lidmate

Gasvryheidsbediening aan besoekers en nuwe lidmate by die eredienste. Verdere besoeke en verskaffing van inligting aan nuwe lidmate.

  1. Sosiaal

Die beplanning en reeling van sosiale geleenthede van die gemeente wat die onderlinge gemeenskap bevorder. Die geleenthede vind veral op Sondae en Vrydagaande plaas.

  1. Senior lidmate

Die diensgroep reel spesiale geleenthede vir die senior lidmate in samewerking met die vroue van die gemeente.

  1. Tegnologiese vaardigheid

Die groep fokus op die gebruik van tegnologiese middele en vaardighede vir die bevordering van die gemeentebediening, byvoorbeeld met die dataprojektor, opname van die preke, visuele middels vir kommunikasie-bevordering, bulk-sms, ens.

5.7 ONS BIBLIOTEEK, BOEKWINKEL, CDS EN DVDS

Ons Biblioteek is tans in 'n ontwikkelingstadium in ons saal. Daar is 'n boekrak met boeke wat uitgeneem kan word. Ons beoog ook 'n uitstaltafel waar preke, CD's, DVD's en ander hulpmiddels gekoop kan word.

6. ONS SAAL

Ons saal is beskikbaar vir verhuring vir konferensies, saamtrekke en ander geleenthede. Besprekings kan gedoen word by die Dennie Schoeman (Tel nr 044-2794073 of 0728094373).

7. KOMMUNIKASIE

Ons besef die noodsaak van deeglike kommunikasie en soek altyd na geleenthede om dit te verbeter. Die volgende middele word tans aangewend vir kommunikasie-doeleindes:

  • Die weeklikse nuusbrief (Byderhand)

Berigte kan tot Vrydagoggende aan die Skriba deurgegee word

  • Die Kwartaallikse nuusbrief (Wyd en Syd)

  • E-pos versending van die weeklikse nuusbrief

lidmate wat verkies om die nuusbrief per e-pos te ontvang kan hul inligting by die Skriba van die gemeente opgee.

  • Die webblad (Sal September 2010 in volle werking wees)

  • Bulk sms

Aangesien ons streef na die beste kommunikasie sal kreatiewe idees om die kommunikasie te verbeter waardeer word. Praat gerus met u ouderling of die predikant of skriba hieroor.

8. ANDER REËLINGS

Skakel asseblief so gou as moontlik die Skriba, die ouderling van jou geloofskring of die predikant in verband met die volgende sake:

  • Huweliksbevestiging

  • Dood

  • Siekte of enige vorm van beproewing

Moet asseblief nie huiwer om die predikant of jou ouderling te kontak in tye van nood nie. Ons is 'n geestelike familie, mekaar se broers en susters en vriende, en is geroep om mekaar in liefde by te staan. Ons het almal mekaar nodig.

9. BESOEKERS / NUWE LIDMATE

  1. HOE SKAKEL EK IN?

Ons wil graag 'n gemeente wees waar almal wat soekend na die Here se liefde, gemeenskap, omarming en beskerming 'n geestelik tuiste vind. Daarom verwelkom ons nuwelinge in ons midde.

Besoekers by ons eredienste is welkom om 'n vormpie in te vul wat by die ingang van ons kerkgebou is. Daarop kan hulle hul behoeftes noem. Die versoeke sal so spoedig as moontlik opgevolg word.

Kontak gerus vir ds. Deon van der Walt (Tel: 0826687343) of Joe Pretorius (Tel: 044-2792965), ons Administratiewe Beampte.

Jy sal 'n besoek ontvang en begelei word in die proses van inskakeling (aansluiting by gemeente, inskakeling by geskikte groepe asook die begeleiding tot aktiewe deelname).

Ons glo dat die Here mense aan spesifieke gemeentes bind - soek daarom ook saam met ons na die dieper doel agter jou inskakeling by die gemeente.

  1. GROEI-GELEENTHEDE

Die groei-geleenthede wat aan lidmate gebied word is veral die volgende:

Besoeke aan huis deur die predikant en die Ouderlinge van die onderskeie geloofskringe

Kleingroep- en Bybelstudie-byeenkomste

Diens in diensgroepe

Uitreikingsgeleenthede

Eredienste

Spesiale gemeente byeenkomste wat fokus op toerusting

9.3WAT WORD VAN MY VERWAG?

Op Bybelse gronde word daar duidelike verwagtinge aan elke lidmaat gestel. Lidmate word aangespoor om hulle daadwerklik tot die volgende te verbind:

* Betrokkenheid

* Getroue erediensbywoning

* Diens in ooreenstemming met jou gawe

* Bereidheid om toegerus te word om te groei in jou verhoudings met God en medemens en in jou diens.

* Bereidwilligheid om ook uitdrukking te gee aan jou dank teenoor God deur finansiële ondersteuning volgens vermoë

* Bereidheid om jou bydrae te lewer tot die uitdra van die evangelie, en om in besonder kerklos en kerklose mense uit te nooi en saam te bring na ons eredienste en ander aktiwiteite. Elke verloste moet in diepe dankbaarheid ander nader trek om dieselfde genade, vrede en vreugde te kan belewe.

9.4ORIENTASIE-GELEENTHEID

Ter wille van kennis en inskakeling word van nuwe lidmate verwag om 'n oriëntasie-byeenkomste by te woon waartydens die volgende sake hanteer word:

1. Wie is ons (gemeente)?

2. Wie is ek? / Waar pas ek in?

3.Ons roeping na buite

10.SLOTGEDAGTES

Ons gemeente vorm 'n klein deeltjie binne die konteks van die groter geheel - ons voel ons deel van die Here se wêreldwye kerk hier op aarde. Ons besef egter ook dat die Here aan ons 'n besliste rol gee in ons gemeenskap in die uitbouing van sy wonderlike Koninkryk.

Gegewe bepaalde omstandighede in ons land/omgewing, bied ons gemeente 'n tuiste vir mense wat soekend is - mense wat saam met ons binne 'n gebroke wêreld worstel om God se hand te sien en vas te hou, en wat smag na 'n dieper verhouding met die Here waarbinne hulle met oorgawe kan dien. Ons bied aan almal wat wil

  • 'n tuiste waarbinne hul God se beskerming vind

  • die ondersteuning van medegelowiges

  • 'n geloofstuiste/familie waarbinne hulle kan groei na Christus toe

  • geleenthede om te dien en bedien te word

  • geleenthede om die uitreikende hand van die Here te ervaar en self weer uit te reik na ander in nood.

Mag jou ervaring saam met die Gereformeerde Kerk Oudtshoorn van ryke betekenis wees vir jou geestelike groei, en mag ons Here daardeur oorvloedige eer ontvang!